< Terug naar codex

Die lied van jong Suid-Afrika

Pagina: 292/292

Hugo Gutsche

Eitemal
 
En hoor jy die magtige dreuning?
Oor die veld kom dit wyd gesweef,
Die lied van 'n volk se ontwaking,
Wat harte laat sidder en beef.
Van Kaapland tot bo in die noorde,
Rys dawerend luid die akkoorde:
Dit is die lied van Jong Suid-Afrika. (ter)
Die klop van ons ossewawiele
Het die eeue se rus verstoor,
Die klank van ons voorlaaierskote
Het klowe en kranse gehoor.
Die diere het stil staan en luister,
Die bome het bewend gefluister:
Dit is die koms van Jong Suid-Afrika. (ter)

Waar glorie van songloed die berge
Oor hul fronsende voorhoof streel,
Waar winde oor golwende vlaktes
Met grassaad kerjakker en speel,
Die land wat ons vaders gekoop het,
Met bloed tot ons eie gedoop het:
Dit is die land van Jong Suid-Afrika. (ter)

Die golwende veld is ons woning,
En ons dak is die hemelblou;
Die vrijheid alleen is ons koning,
Sy wagwoord is: "Handhaaf en bou"
Die stryd wat ons vaders begin het,
Sal woed tot ons sterf of gewin het,
Dit is die eed van Jong Suid-Afrika. (ter)